|
DIE BERGKLUB VAN SUID-AFRIKA Afdeling WORCESTER Section THE MOUNTAIN CLUB OF SOUTH AFRICA Posbus/P O Box 373 Worcester 6849 Nuusbrief 563 October 2011 - February 2012 Epos/email: vanbroer@mweb.co.za KLIMPROGRAM Januarie - Mei 2012 21 – 22 Januarie DISA KLIM Leier: Johan De Witt (082) 484 8663 Dit is al tradisie by Worcester-afdeling om elke jaar die disa’s te gaan tel. Kom geniet hierdie gewilde stap en Thomashut op sy mooiste saam met lede van die Bergklub. Koste: Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede, en hutfooi R10 vir lede en R30 vir nie-lede 4 - 5 Februarie GEHEIME KLOOF – FAIRY GLEN Leier: Tonie Roux (023) 342 4292 (h) Met die vorige uitstappie in Fairy Glen kloof het ons op ‘n kloof afgekom wat ons nie ken nie. Daar was ongelukkig nie tyd om dit verder te verken nie en wil verder gaan ondersoek instel. Ons beplan om tot by Lemoendraai te stap en daarna in die Fairy Glen kloof af te sak waar ons die nag sal slaap. Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 11 – 12 Februarie SNEEU PROTEA - SEDERBERG Leier: Frans Krige (023) 342 0811(h) of (072) 602 4357 Frans weet waar die raar en pragtige Sneeu Protea teen Langberg en Sneeukop groei. Ons vertrek reeds Vrydag aand en gaan op die plaas Driehoek slaap. Die volgende oggend stap ons tot die Welbedagt grot (of verder) waar ons gaan oornag. Die middag gaan ons die Sneeu Protea soek. Sondag klim ons Tafelberg uit, waarna ons terugkeer huis toe. Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede plus permit van R130 pp. 24 Februarie KLUBAAND Koördineerder: Erna Roux (023) 342 4292 (h) Tonie en Erna nooi Bergklub lede uit na Drommedarissingel 9 om ‘n ligte versnappering te geniet en ‘n glasie wyn te kom drink. Bring droë klere saam indien jy “per ongeluk” in die swembad sou val. Foto’s van ons tog deur die Witels sal vertoon word. 25 - 26 Februarie GEHEIME KLOOF – FAIRY GLEN Leier: Tonie Roux (023) 342 4292 (h) Met die vorige uitstappie in Fairy Glen kloof het ons op ‘n kloof afgekom wat ons nie ken nie. Daar was ongelukkig nie tyd om dit verder te verken nie en wil nou verder gaan ondersoek instel. Ons beplan om tot naby Lemoendraai te stap en daarna in die Fairy Glen kloof af te sak waar ons die nag sal slaap. Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 26 Februarie GEDENKDIENS – TAFELBERG Inligting: Erika Van Niekerk (072) 342 9224 Die geleentheid om bo-op Tafelberg onder die blou-blou hemel “kerk te hou”, maak van hierdie diens ‘n spesiale geleentheid vir elke lid. Dit is moontlik om op eie koste met die kabelkar af te ry. Tref asseblief eie reëlings om onder opgetel te word. Lucille Krige het aangebied om die klim te lei. Diegene wat nog energie oor het, kan die somerkonsert in Kirstenbosch Botaniese Tuine bywoon. Bespreek deur Computicket hiervoor. Koste: Eie vervoer. 3 - 4 Maart WERKNAWEEK Leier: Tonie Roux (023) 342 4292 (h) ‘n Nuwe gat vir die toilet moet gegrawe word asook die aanlê van ‘n nuwe pyp. Moontlik sal daar ook begin word met die inbou van die nuwe kaggel. Kom geniet die naweek en wees deel van Thomashut se geskiedenis . Koste: Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede, en hutfooi R10 vir lede en R30 vir nie-lede 10 Maart BOTRIVIERKOP Leier: Frans Krige (023) 342 0811(h) of (072) 602 4357 Hierdie omgewing is bekend vir sy pragtige fynbos en proteas. Detail sal nader aan die tyd gegee word. Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 21 Maart JONASKOP Leier: Madeleine Jourdan (023) 347 3816(h) Verlede jaar is ‘n baie suksesvolle uitstappie aangebied, met die fokus op ons ouer lede. Almal is baie welkom om dit by te woon en ‘n heerlike piekniek saam met ons op die berg te geniet. ‘n Absolute MOET vir die Ericacae-entoesiaste. Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 24 – 25 Maart MAANSKYNKOP – HERMANUS Leier: Heleen Du Toit (028) 314 0053 Heleen het ons weer uitgenooi om Hermanus te besoek en in die Privaat Natuurreservaat na Maanskyn kop te stap. Die datum is egter nog nie vasgemaak nie. Detail sal nader aan die tyd gegee word. Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 31 Maart – 1 April SLANGHOEK NAALD Leier: Tonie Roux (023) 342 4292 (h) Ongeveer 3 ure se stap van die motors saal ons af vir die nag in sekerlik een van die mees besondere wegsteek-plekkies in die berge. Die volgende dag wag ‘n steil klouter op in die kloof, tot op die nek tussen Slanghoek naald en Slanghoek piek. Via ‘n “dassie crawl” (nie vir diegene met erge hoogtevrees nie!) en ‘n “step over” na die volgende kloof, bereik ons die oog van die naald. Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 6 – 9 April CAPE ST FRANCIS Charl Oéttle (023) 347 1073 (h) Die kuier oor Paasnaweek in Charl se familie-strandhuis het nou al ‘n klubinstelling geword. Die rooikransbome op die eiendom is byna uitgeroei en net opvolgwerk is nog nodig. Neem lekker dik handskoene, ‘n snoeiskêr en/of petrolsaag saam om te help. Koste: R5 (lede) en R20 (nie-lede) stapfooi en eie vervoer 14 - 15 April WELLINGTON SNEEUKOP Leier: Tonie Roux (023) 342 4292 (h) Ons beplan om vanaf Bainskloof na Springstygstiebeuel stap. Oornag is onder die stêrre in die omgewing van Sneeukop. Hierdie is nie ‘n moeilike stap nie. Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 21 April TIERBERG Leier: Frans Krige (023) 3420811 (h) of (072) 6024357 Tierberg-piek lê tussen Rabiesberg en Keerom. Ons het nog nie hierdie piek geklim nie, en gaan die tog vanaf Piet de Wet se plaas aanpak. Verwag die onbekende! Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 27 - 29 April KOMPASBERG Frans Krige (023) 342 0811(h) of (072) 602 4357 Belangstellendes moet Frans vroegtydig kontak. Dit is ‘n aansienlike afstand per motor na die Kompasberg (in die omgewing van die suidelike Drakensberge) en vervoer en verblyf reëlings moet vooraf getref word. Indien die belangstelling voldoende is en lede kan die Maandag verlof neem, kan die uitstappie uitgebrei word om eers Dinsdag 1 Mei terug te keer. Koste: Onderlinge vervoer reëlings. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 1 Mei VOËLKYK-UITSTAPPIE Leier: Erika van Niekerk (072) 342 9224 Worcester se bergklub het verskeie voël-kyk-eksperts. Hierdie is ‘n ideale geleentheid om ‘n bietjie touwys gemaak te word en sommer op die koop toe 'n heerlike herfs dagstap te onderneem. Bring jou verkyker en voëlboek saam en kom geniet 'n heerlike dag saam met ons. As jyself al 'n kundige op die gebied is, is jy net so welkom! Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede. 12 – 13 Mei RIVIERSONDEREND Leier: Phillip Du Preez (028) 261 4292(h) of Tonie Roux (023) 342 4292(h) Ons beplan om reeds baie vroeg die oggend te vertrek. Ons gaan aan die bopunt van Olifantskloof begin en al met die kloof afkom. Daar sal teen ‘n paar watervalle ge-abseil moet word, maar na wat ons verneem, is dit nie baie hoog of gevaarlik nie. Daar is ‘n paar verpligte swemme. Koste: Eie vervoer. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede 26 – 27 Mei ANYSBERG Leier: Claus Riding (023) 312 1455 ‘n Paar jaar gelede het Claus ons met ‘n 4x4 roete tot hoog in die berg geneem waar ons oornag het. Ons beplan om dit weer te doen maar langer in die berg te bly om meer in die berg te stap. Skakel Claus vroegtydig m.b.t. die vervoer- en toegang reëlings. Koste: Onderlinge vervoer reëlings. Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede plus Parkfooie van toepassing |