July 2011
Home Disclaimer Newsletters Links Photos Thomas Hut Access

July 2011 October 2011 May 2012

                                                                                                                     

  DIE BERGKLUB VAN SUID-AFRIKA

Afdeling WORCESTER  Section

THE MOUNTAIN CLUB OF SOUTH AFRICA

    Posbus/P O Box 373 Worcester 6849                        Nuusbrief 562 Julie 2011 – Aug 2011

  Epos/email:  vanbroer@mweb.co.za  

Die winter het met mening die jaar aangebreek en daar het al ‘n paar keer sneeu op Fonteintjiesberg geval. Miskien gaan ons vanjaar met die sneeu klimme heerlike sneeu kry by die hut. Hou die datums oop en maak gereed om in die sneeu na Thomas Hut te stap.

Na verlede jaar se geslaagde bywoning van die July Camp deur van ons jonger lede, het twee lede besluit om vanjaar dit ook by te woon. Dankie Heleen en Eric dat julle vir Worcester daar gaan verteenwoordig.

FROM CAPE TOWN ANNUAL REPORT

Springstygbeugel: Assistance has been given to the Cape Leopard Trust survey taking place over the property. Twenty one (YES!!) individual leopards have been identified over the greater Limietberg survey area. Specifically one magnificent male - named Merlot - has been identified inhabiting the MCSA property and surrounds. In addition another 21 different mammal species have been recorded. This underscores that this property is a prime wilderness area that all members would be doing themselves a disservice not to visit.

FAIRY GLEN KLOOF 9 & 10 April

Ons het nie gedink dat dit so rof sal wees nie. Die leier het selfs sy slaapsak by die huis vergeet. Alhoewel dit op die program aangedui is dat enigiets verwag kan word, het nie een van ons so iets verwag nie. Nadat ons ‘n lekker tee’tjie by die hut gedrink het, is ons in die kloof af. Dit was droog en by die eerste plek waar ons water gekry het, is gestop om middagte te nuttig. Terwyl die ander gerus het, het ek ‘n entjie vêrder gestap om die pad vorentoe te gaan verken. Ongeveer 50 meter verder kom ek op ‘n reuse waterval/afgrond af. Van waar ek gesit het, het dit gelyk of dit ongeveer 80m hoog kan wees.

Ons besluit toe om al teen die hang langs te stap want ongeveer ‘n kilometer vêrder lyk na ‘n plek waar ons weer in die kloof kan kom. Daar aangekom het ons begin afsak na die kloof. Dit het aan die begin goed gelyk, maar hoe nader ons aan die kloof gekom het, hoe styler het dit geword. By ‘n stewige waboom het Johan Swanepoel aangebied om af te sak om te kyk of hy die kloof kan bereik.
Hy kry toe, ongeveer 18 meter laer, ‘n breë lys waar ‘n groot boom staan. Versigtig is almal met hul rugsakke tot op die lys laat sak. Van die boom op die lys is die laaste 10 meter tot in die kloof in die donker ge-abseil. (Dit is die tweede keer dat die skrywer in die donker in die Fairy Glen kloof nood gedwonge moet abseil.) Gelukkig kry ons in die donker 20 meter verder ‘n gelykte waar ons kon oornag.

 Die volgende oggend is ons vroeg op en na ‘n vinnige ontbyt, is ons verder die kloof af want ons besef dat ons die vorige dag baie tyd verspil het om verby die waterval te kom. Na ongeveer ‘n uur kom ons weer by ‘n soortgelyke waterval wat van bo af nog hoër lyk. Om verder te stap sal ons hierdie keer teen ‘n skuinste van omtrent 20m moes uitklim, om op ‘n nekkie te kom. Johan het teen die skuinste uitgeklim en die tou stewig vasgemaak. Met groot moeite is ons almal daar uit. Ons sal weer ‘n end langs die hang moes stap maar kon hierdie keer met ‘n rug langs sonder moeite tot in die kloof afsak tot net om bo die volgende waterval te eindig.

 

Phillip abseil die laaste deel na die kloof

Hierdie keer kon ons op die oorkantse hang net verby die waterval stap maar moes nogtans die laaste 10 meter tot in die rivier weer abseil. Na ‘n vroëe middagete het vyf baie moë stappers op die sand strand (aan die bopunt van die Fairy Glendam) neergeval. Gelukkig was die dam baie leeg en kon ons maklik die wal bereik. Die laaste end na die motors het ons sleepvoet gestap.

Hierdie is nie ‘n uitstappie wat ek sommer weer wil doen nie. Ek moet egter my mede-stappers prys vir hul moed wat hul aan die dag gelê het om die tog te voltooi. Die kloof is vreeslik mooi en kan van onder tot by die eerste waterval maklik van die dam verken word.

Tonie Roux

‘n Ander weergawe van dieselde storie

Wel, ons is toe al 5 eers Saterdag oggend van die parkeerplek by Fairy Glen weg. 'n Maklike stap, paadjie-langs tot by die hut (1400m). Selfs toe het ek nog glad nie besef wat lê voor nie, want ons het eers rustig tee gedrink en in die skaduwee langs die hut gelê.

Maar van daar was dit 'bundu bashing' en konsentrasie en wonder wanneer gaan ons water kry (kloof daar bo baie droog) sodat ons kan stop vir lunch. Anyway, seker nie 'n uur na ons lunch-stop nie, kry ons 'n helse afgrond en waterval in die 'pad'. Die kloof / rivier kronkel soos BAIE s'e en is baie mooi en baie diep. Ons is toe eers bo-langs (klou-klou aan die fynbos, teen die helling) heeltyd op die uitkyk vir afgaan-plekke.

Erna, Heleen, Phillip & Johan voor die moeilikheid begin het

Tot op 'n plek waar ons Tonie se tou vir die eerste keer moes gebruik. Net hy is ervare, die ander 4 van ons het nog nooit tevore ge-abseil nie. Dit was lekker, en hy leer mens baie mooi. Maar al was ons by 'n krans af, was ons nog glad nie weer 'naby' die rivierbedding nie (al kan mens die rivier heelpad hoor) en het so aangekarring teen die helling op fynbos-lysies, en oor klipperige 'neuse' om by die rivier te probeer uitkom. Toe dit al eintlik tyd was om te begin kamp maak, was ons weer verplig om met die tou af te sak tot op 'n lysie naby die rivier. Jy weet, om al 5 daar af te kry vat nogal tyd. En toe sit ons daar op 'n klein stukkie en dis NOG 'n helse drop tot onder by die water waar ons wil kamp. Ek het gedink ek het heeltemal genoeg avontuur vir een dag gehad. Johan is eerste af- gelaat met die tou 'enkel', toe ek, (met 'n koplig aan), verby 'n druppende oorhangkrans, toe Erna en Philip. Ek het daar sit en stres dat die tou nie lank genoeg gaan wees vir Tonie om af te abseil nie. Erna het net gese hy weet wat hy doen, sou seker meet met die optrekslag, en gelukkig was die tou net lank genoeg! (45m)

Jy kan dink, toe is dit pikdonker en die klofie so smal en ons soek slaapplek met die kopliggies. Darem nie te vêr gesoek nie en lê-plek gemaak tussen die klippe met ons voete amper in die water. Ons was so moeg, het net water gekook vir sop/koffie en die oorskiet brood van middagete ge-eet en gaan slaap. Ek het verbasend gemaklik gelê, maar in die nag so koue glibberige dingetjie in my slaapsak gevoel, was seker dis 'n padda en onskadelik, maar hy't my 'n paar keer wakker gemaak. Ons plek was so min, ek wou nie probeer opstaan en uitskud nie.

Dis 'n pragtige kloof met hoë bome en varings en rotswande wat so hoog soos Tafelberg lyk. Sondagoggend het ons vroegerig begin stap (my horlosie die Sat iewers verloor), maar nie vreeslik vêr gekom voor nog 'n groot waterval-afgrond in die pad is nie. Johan het baie braaf teen die wal opgeklouter met 'n tou om sy lyf wat hy bo vir ons vasgemaak het sodat ons daar kon op met die rugsakke. Toe almal bo is, besef ons ons het al ons water uitgegooi by die rivier en dit was duidelik dat ons weer 'n hele ent (wie weet hoe vêr?) bo teen die helling sou moes beweeg (jy kan dit nie stap noem nie). Tonie weer met die tou af en op met die waterbottels.

Teen middagete Sondag was ons weer m.b.v. 'n lekker abseil (teen die tyd heel gesout) onder in die rivierloop. Van daar al in die rivier en langsaan (deur die bosse) af, verby die plek wat ek dink Tonie in gedagte gehad het vir ons kamp, tot by die bo-punt van Fairy Glen dam. (Die dam het 'n hele paar 'draaie' saam met die klowe).

Ek het gedink van daar tot by die damwal en af met die trappe en leer en dan padlangs terug karre toe sal maklik wees. Maar dit was amper die ergste om verby die dam (baie leeg) te kom op daai aaklige los klippe teen die skuinste. Gelukkig was Tonie al daar en het geweet hoe en waar.

Ek wonder hoeveel mense al voorheen in daai boonste deel van die kloof was. Ek het baie vertroue in Tonie en was nooit regtig bekommerd oor ons veiligheid nie, maar as ek geweet het hoe erg die moeilikheidsgraad sou wees, het ek seker nie saamgegaan nie. As jy saam was, kon jy daai nat tou dra!!! (en die 2 harnasse en al die 'clips' en die figure of 8). Tonie het al die goed alleen gedra.

Ons was darem 5.30 terug by die karre en ek 7.30 by die huis. Honger, moeg, vuil, vol skrape en kneuse.

Heleen Du Toit

 

HEIVELDBOOG -

Dit was vrolike groepie wat die oggend by die plaas se hek bymekaar gekom het. Dit was ‘n wolklose heerlike wintersdag wat ideaal is om te gaan stap.

Dit was ‘n heerlike stap tussen rots formasies tot by die boog. Waar ons ‘n vroeë middagete uit die wind in die yl sonnetjie geëet het. Terwyl ons nog so die omgewing geniet, maak die eerste wolke hul verskyning en ons besef dat ons  moet wilkkel as die reën ons nie moet vang nie. Ons is met ‘n ompad terug en het lekker nat gereën. Party van ons het in die reën probeer boesman tekeninge soek, maar niks gekry nie

Sommige van ons is toe terug huistoe, terwyl die ander vir die nag by Westland gaan kamp het. Na ‘n heerlike aand om die gebruiklike groot kampvuur, is daar lekker gesels en ge-kuier. Die volgende oggend is ons vinnig na die nekkie (waar ‘n ysige wind gewaai het) by die kampterrein uit, voor ons huitoe is.

Tonie Roux

 

APEXPIEK – 18 &19 Junie

Vanjaar se griep het behoorlik ‘n mens laat sleg voel en jy kon nie maklik daarvan ontslae raak nie. Tom het nog aan die nagevolge van die griep gelei en Tonie het toe ingestaan. Die weer het ook ‘n paar lede afgeskrik maar uiteindelik het vyf van ons na Apex Piek Saterdagoggend vroeg in heerlike weer vertrek. Nadat ons die sleutel van die hek by mnr Jannie Hanekom op die plaas Ysterplaat gekry het, het ons met ‘n verspoelde pad hoog op in die berg tot op die plaas Zuurvlakte gery. (volgens Jannie Hanekom het dit die vorige paar dae 138mm daar gereën)

Van die motor is dit ‘n maklike stap tot op die piek. Die grot waarin ons oornag het was net onder die piek en bied goeie beskerming teen die weer. Nadat ons ‘n vinnige middagete geëet het, het ons die omgewing verken en in nou skeure en interessante grotte en rotsvormasies ondersoek.

Die aand het die wind al sterker gewaai maar die grot het baie goeie skuiling gebied. Ons het geweet dat dit die volgende dag gaan reën maar toe ons die
volgende oggend wakker word was dit mistig, nat en winderig. Teen 9h00 het ons die terugtog aangepak in die reën en sopnat by die motor aangekom

Een van talle rotsformasies

Stevie, Erika en Erna in een van die talle nou skeure

Ons het besluit on die uitstappie weer gou op die program te sit maar dan wil ons toue saamneem om teen die rotse te abseil.   

Tonie Roux

 

 KLIMPROGRAM  Julie – Sept. 2011

2 - 3 Julie    WERKNAWEEK
Leier: Tonie Roux (023) 342 4292 (h)

Kom geniet die kameraadskap wat so ‘n naweek bied en help met Thomashut se onderhoud.  Daar is los klippe op die stoep wat aandag nodig het en die water toevoer na die toilet moet vervang word.
Koste:  Stapfooi gratis, Oornagfooi R10 (per nag vir lede) en R30 (per nag vir nie-lede)

2 – 16 Julie           JULY CAMP
Inligting: Erika Van Niekerk (072) 342 9224

Vanjaar word die July Camp in die Injisuthi area van die Drakensberge gehou. Dit is ‘n ruwe terrein maar een die mooiste gebiede in die Drakensberge. Meer inligting kan van Erika bekom word.

16 Julie      ORANGE GROVE / KAROOTUINE
Leier:  Madeleine Jourdan (023) 347 3816

‘n Maklike namiddag stap in ‘n heerlike wintersonnetjie.
Eie vervoer.  Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede

23 – 24 Julie   HANGKLIP
Leier: Frans Krige (023) 342 0811 of (072) 602 4357

Ons gaan weer by Frans se Standhuis by Hangklip oornag. As die weer dit toelaat gaan ons Saterdag oggend vir hom help, met die toestemming van die brandweer, om van die bosse wat hy gedurende die somer afgesaag het, te brand. Die middag stap ons langs die see of klim die berg uit. Saterdag aand maak ons ‘n groot braaivleis vuur en kuier lekker saam.
Eie vervoer.  Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede

6 – 9 Augustus   SEWEFONTEIN / MASKAMBERG, VAN RHYNSDORP
Leier: Claus Riding (023) 312 1455

Belangstellendes moet Maandag 8 Augustus verlof neem by die werk. Ons gaan by ‘n grot slaap op die plaas. Die pad is nie goed nie en slegs bakkies of 4x4’s kan die pad ry. Daar is slegs plek vir 12 lede. Bespreek dus vroegtydig.
Koste: R195 pp plus eie vervoer en Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede

13 – 14 Augustus     DAMOM VOETPAD, DE WET
Leier: Gerrit Hugo (023) 340 4567                                                             

Lede kan hierdie uitstappie as ‘n dagstap of ‘n naweek uitstappie beplan. Ons gaan met ‘n ompad na Piet De Wet se berghut stap (Ons sakke word opgery). Diegene wat wil teruggaan, stap met die jeeppad terug na die motors. Die res gaan die aand heerlik kuier in die hut.
Koste:  Stapfooi
R5 vir lede en R10 vir nie-lede plus hutfooie

20 Augustus    CERESPIEK, CERES
Leier:  Claus Riding (023) 3121455

Ons ontmoet mekaar 9 uur by Bergsigstraat 18, Ceres.  ‘n Matige stap na die piek en Koekedouwdam behoort ongeveer 5 ure te neem. 
Die uitsig van bo (ongeveer 2000 voet) is asemrowend.
Koste:  Eie vervoer en stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede

27 – 28 Augustus    SNEEUKLIM
Leier: Johan De Witt (0824848663)

Dis wintertyd en ons hoop om ‘n lekker sonskyn dag te kry met baie sneeu. Kom geniet die Thomas Hut op sy beste wanneer ons in die sneeu baljaar en voor ‘n lekker vuur sit in die hut.
Koste: Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede, en hutfooi R10 vir lede en R30 vir nie-lede.

10 – 11 September   5-FONTEIN, SUTHERLAND
Leier: Bertie Leeuwner (023) 347 2503

Almal is bekend met Sutherland se koue winters. Kom saam om dit te ervaar. Ons gaan op Henry Engelbrecht se plaas, 5-Fontein, bly. ‘n Lekker vuur gaan die aand in die kaggel gemaak word. Ons gaan ook in die koppe rondom die plaashuis stap asook ‘n besoek bring aan die radarstasie op die plaas.
Koste:  Eie vervoer en Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede

17 -18 September           SNEEUKLIM(2) / WERKNAWEEK
Leier: Erika Van Niekerk (072) 342 9224

Om seker te maak ons gaan vanjaar beslis in die sneeu baljaar, is daar besluit dat ons in September weer die hut gaan besoek. Ons kombineer dit met ‘n werknaweek ingeval daar nie sneeu is nie.  Heel moontlik sal daar ‘n groep wees wat Vrydagaand opstap en nog ‘n groep wie Saterdagoggend sal stap.
Koste: Stapfooi R5 vir lede en R10 vir nie-lede, en hutfooi R10 vir lede en R30 vir nie-lede

1 – 2 Oktober                    RABIESBERG
Leier: Hannes Rabie (023) 342 1287

Ons het laas die skaars Holosericea Protea teen die hange van Saw Edge opgespoor en na wat verneem word kom dit ook op Rabiesberg voor. Ons gaan kyk of die geluk weer aan ons kant is om dit te vind. Ons vertrek van Nuwerus na Nonnakloof waarvandaan ons gaan stap en ons oornag in die berg.
Koste: Eie vervoer en stapfooi
R5 vir lede en R10 vir nie-lede

KOMENDE AKTIWITEITE

Blommestap / Caledon Blommeskou

Goudini Sneeukop

Algemene Jaarvergadering - 15 Nov

Jaareind funksie – 26 Nov

Home Disclaimer Newsletters Links Photos Thomas Hut Access